'n Vergadering van die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) (KABA) van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het op 30 Oktober 2012 plaasgevind.

Vyftien kerke wat die Afrikaanse Bybel gebruik, was teenwoordig.

Die vergadering het kennis geneem van die verdagmaking en pogings om die Bybel: 'n Direkte Vertaling, wat tans deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op versoek van die kerke vertaal word, by voorbaat in diskrediet te bring.

Die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans) het eenparig die volgende besluit aanvaar:

Die vergadering
1. vind dit baie jammer dat pogings aangewend word om die Bybel: 'n Direkte Vertaling (BDV) verdag te maak en by voorbaat in diskrediet te bring op grond van die manier waarop tekste in die Ou Testament, wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word, weergegee word en distansieer hom van al sodanige pogings;
2. bely onomwonde, saam met die hele vertaalspan en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), die Godheid van Christus en sy verlossingswerk;
3. betuig sy dank teenoor die BSA vir die besluit dat ’n tweede uitgawe van die vertaling (soos versoek deur sommige kerkgenootskappe) goedgekeur word waar hoofletters gebruik sal word in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word;
4. versoek kerkgenootskappe om hul lidmate bewus te maak van die BDV en die webblad www.bybeldirektevertaling.co.za onder hulle aandag te bring;
5. verseker die vertaalspanne en redaksionele komitees van hul voorbidding vir die vertaling van die BDV.
6. bedank die BSA vir die wyse waarop hulle die saak met betrekking tot die verdagmaking van die BDV hanteer.


Ons vertrou dat hierdie duidelike besluit verder sal bydra om kerkgenootskappe, kerke en lidmate gerus te stel ten opsigte van die integriteit en geloofsoortuiging van die vertaalspan en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika met betrekking tot die vertaling wat tans gedoen word.

Vanweë die feit dat die oorgrote meerderheid kerkgenootskappe wat Afrikaans as voertaal gebruik by hierdie vertaling betrokke is, vertrou ons dat die vertaling instrumenteel sal wees om die Kerk en Koninkryk baie wyd te dien en dat dit duidelik en helder die Goeie Nuus sal oordra "sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê." (Johannes 20:31)

In diens van die Woord

Ds Gerrit Kritzinger
Uitvoerende Hoof

1 November 2012

JSN Solid is designed by JoomlaShine.com